Karel die Grote (Charlemagne)

10 dae oor

Belê in geskiedenisonderwys

Deur ons liefdadigheidsorganisasie World History Foundation te ondersteun, belê u in die toekoms van geskiedenisonderwys. Jou skenking help ons om die volgende generasie te bemagtig met die kennis en vaardighede wat hulle nodig het om die wêreld rondom hulle te verstaan. Help ons om die nuwe jaar te begin gereed om meer betroubare historiese inligting te publiseer, gratis vir almal.
$3081 / $10000

Definisie

Joshua J. Mark
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 25 March 2019
Luister na hierdie artikel
X
Druk artikel
Bust of Charlemagne (by Beckstet, CC BY-NC-SA)
Borsbeeld van Karel die Grote
Beckstet (CC BY-NC-SA)

Karel die Grote, ook bekend as Karel I (l. 742-814), was Koning van die Franke (r. 768-814), Koning van die Franke en Lombarde (r. 774-814), en Heilige Romeinse Keiser (r. 800-814). Weens sy militêre suksesse wat die meeste van Wes-Europa verenig het, sy opvoedkundige en kerklike hervormings en sy beleide wat die grondslag vir die ontwikkeling van latere Europese volkere gelê het, is hy van die bekendste en invloedrykste figure van die Vroeë Middeleeue.

Hy was die seun van Pepyn die Korte, Koning van die Franke (r. 751-768, eerste koning van die Karolingiese Ryk). Karel die Grote het met sy pa se dood die troon bestyg en saam met sy broer, Karloman I (r. 768-771) regeer tot laasgenoemde oorlede is. As enkelheerser daarna, het Karel die Grote sy koninkryk vinnig uitgebrei, homself hoof van die Westerse Kerk betitel – sodat hy magsgewys die pouse van die tyd vervang het – en het vir die 46 jaar van sy bewind byna ononderbroke militêre veldtogte aangevoer om Europa te kersten en oproerigheid te onderdruk.

Verwyder Advertensies
Advertensie

Sy afsterwe in 814 is deur sy tydgenote as ’n tragedie beskou, en sy dood is deur die hele Europa betreur – veral toe die Viking-strooptogte kort ná sy dood begin het. Daar word dikwels na hom as die “vader van moderne Europa” verwys.

Vroeë lewe en oorneem van bewind

Karel die Grote is waarskynlik tydens die finale jare van die Merowingiese Dinastie, wat sedert ca. 450 oor die geweste geheers het, te Aken (in hedendaagse Duitsland) gebore. Die Merowingiese koning het jare lank al voortdurend mag en invloed verloor terwyl die oënskynlik onderdanige koninklike posisie van Burgemeester van die Paleis (ekwivalent van ’n eerste minister) al meer invloedryk geraak het. Teen die tyd van koning Childeric III (r. 743-751) het die monarg basies geen mag gehad nie, en het Pepyn die Korte, Burgemeester van die Paleis, alle administratiewe beleide bepaal.

Verwyder Advertensies
Advertensie

Pepyn het begryp dat hy nie die troon eenvoudig onregmatig kon toe-eien en verwag om as legitieme koning erken te word nie. Derhalwe het hy hom op die pousdom beroep en gevra of dit reg is dat ’n magtelose heerser aanhou om die titel “koning” te dra? (Hollister 108) Die pousdom was op die hierdie tydstip opgesaal met ’n magdom probleme, wat van die vyandiggesinde Lombarde in noordelike Italië tot die ikonoklasme-kontroversie met die Bisantynse Ryk gewissel het.

Die Bisantynse Keiser het onlangs enige fisiese verteenwoordiging van Christus in kerke as afgodery veroordeel en gelas dat alles verwyder moet word. Voorts, het hy hierdie selfde beleid aan die pous probeer voorskryf, en probeer dat dit in Wes-Europa nagevolg word. Vakkundige C. Warren Hollister stel dat die pousdom nog nooit ’n kampvegter so desperaat benodig het as toe pous Sagaria (dien 741-752) Pepyn se brief ontvang het nie. Hy het min of meer onmiddellik met Pepyn saamgestem.

Verwyder Advertensies
Advertensie

Map of Francia
Kaart van Frankeland
Sémhur (CC BY-SA)

Pepyn is in 751 as Koning van die Franke gekroon en, in ooreenstemming met koninklike presedente, het hy sy twee seuns as sy opvolgers benoem. Een van sy eerste handelinge as koning was om die Lombarde te verslaan, en ’n beduidende deel van hulle grond aan die pousdom te skenk – ’n konsessie bekend as Pepyn se skenking. Op hulle beurt het die pousdom gehoop hulle kan beheer oor Pepyn en sy opvolgers uitoefen, en het gesag oor die Frankiese kroon opgeëis uit hoofde van ’n dokument bekend as die Donasie van Konstantyn. Na bewering is hierdie dokument deur die eerste Christelike Romeinse keiser, Konstantyn I, self opgestel en meld dit dat ’n Christen-monarg sy bewind vrywillig aan die pousdom prysgee, waarop die pous dit dan weer goedgunstiglik terugbesorg.

Volgens die dokument was die Kerk die ware mag agter elke troon, en kon hulle mag so maklik terugneem as wat hulle dit “gegee” het. Die dokument was ’n vervalsing – en daar is geen bewys dat Konstantyn ooit op enige manier so ’n stelling gemaak het nie – maar daar was geen manier hoe Pepyn dit kon geweet het nie en, synde ongeletterd, is hy met geen keuse gelaat nie as om te glo wat die kerklui hom wysgemaak het op die papier geskryf staan wat hulle in sy gesig gewaai het. Pepyn het die stipulasie van die Donasie van Konstantyn aanvaar; sy seun sou nie.

KAREL DIE GROTE HET VAN DIE BEGIN AF GEHEERS UIT KRAG VAN SY KARAKTER WAARIN DIE KOMBINASIE VAN DIE KRYGERKONING-ETOS MET CHRISTELIKE VISIE VERGESTALT WAS.

Koning Pepyn is in 768 oorlede, waarna sy seuns die troon bestyg het. Die medebewind met Karloman was nouliks harmonieus, aangesien Karel die Grote eerder ten gunste van direkte optrede was om moeilikhede te oorbrug terwyl sy broer minder daadkragtig blyk te gewees het. Die eerste toets van hulle bewind was die rebellie van die provinsie Aquitanië wat in 769 deur Pepyn verower is. Karel die Grote was ten gunste van ’n militêre veldtog, wat Karloman nie ondersteun het nie.

Verwyder Advertensies
Advertensie

Karel die Grote het teen Aquitanië opgeruk en die rebelle verslaan, en ook die aangrensende Gascogne oormeester, terwyl Karloman geweier het om enige deel daaraan te hê. In 770 is Karel die Grote met ’n Lombardiese prinses, dogter van koning Desiderius (r. 756-774) getroud, maar het haar toe verwerp om met die tienderjarige Hildegard (toekomstige moeder van Lodewyk die Vrome, r. 814-840) getrou. Nadat Desiderius by Karloman toenadering gesoek het om Karel die Grote omver te werp ten einde die eer van eersgenoemde se dogter te wreek, het die twee broers reguit op burgeroorlog afgestuur toe Karloman in 771 oorlede is.

Militêre veldtogte en uitbreiding

As alleenheerser oor die Franke, het Karel die Grote van meet af geheers uit krag van sy karakter waarin die kombinasie van die krygerkoning-etos met Christelike visie vergestalt was. Hollister (109) beskryf die koning:

Karel die Grote het sowel figuurlik as letterlik bo sy tydgenote uitgetoring. Hy was langer as 2 m met ’n fris nek en dikbuikig en tog, ten spyte daarvan, met ’n imposante voorkoms. Hy kon warm en spraaksaam wees, maar hy kon ook hard, wreed en gewelddadig wees, en sy onderdane het hom met sowel bewondering as vrees bejeën. Bowenal was Karel die Grote ’n krygerkoning. Dit was niks vreemds nie dat hy sy leërs op jaarlikse veldtogte aangevoer het, en dit was maar met verloop van tyd wat hy die idee van ’n Christelike missie ontwikkel het, asook ’n program om die Christelike weste te verenig en stelselmatig uit te brei.

Nadat hy sy leër opgebou het, het hy in 772 sy eerste veldtog in Sakse van stapel gestuur en ’n lang en bloedige konflik bekend as die Saksiese Oorloë (772-884) begin in ’n poging om die Noorse heidendom in die geweste uit te roei, en sy gesag daar te vestig. Hy het troepe in Sakse agtergelaat en hom na Italië gewend waar die Lombarde hulle invloed weer laat geld het. Hy het die Lombarde in 774 verower en hulle grond deel van sy eie gemaak, en hom daarna “Koning van die Franke en Lombarde” genoem, en na Sakse teruggekeer.

Verwyder Advertensies
Advertensie

Statue of Charlemagne
Standbeeld van Karel die Grote
Mark Kaswan (CC BY-NC-SA)

Baskiese oproerigheid in die Pireneë het Karel die Grote en sy leër daarheen gelok en ’n aantal gevegshandelings het gevolg, onder meer die bekende Slag van Roncevaux Pas in 778 – inspirasie vir die latere epos, “Die lied van Roland” – waarin Karel die grote se agterhoede in ’n hinderlaag betrap en uitgewis is, insluitend graaf Roland van die Bretoense Mark. Hierdie nederlaag het niks vermag buiten om Karel die Grote nog meer vasberade te maak om die geweste geheel en al onder sy beheer te bring nie.

Tussen 778 en 796 het Karel die Grote jaarliks ’n veldtog in die Pireneë, Spanje en Germanië onderneem, en herhaalde oorwinnings behaal. In 795 aanvaar hy die oorgawe van die Aware van Hongarye maar omdat hy geweier het om hulle te vertrou, loods hy ’n aanval teen hulle vesting (bekend as “Die Ring”) en verslaan hulle geheel en al in 796, sodat hulle as volk effektief opgehou bestaan het. Hy het ook die Sarasene van noordelike Spanje verslaan, en ’n buffersone genaamd die “Spaanse Grensland” geskep, asook die eiland Korsika ingeneem. Sy koninkryk het nou regdeur die streek gestrek wat vandag as Frankryk bekend staan, sowel as noordelike Spanje, noordelike Italië en, buiten vir Sakse in die noorde, hedendaagse Duitsland.

Saksiese Oorloë

Elke keer wanneer Karel die Grote gedink het dat hy die Saksers beteuel en hulle die stryd laat vaar het, het hulle weer gerebelleer. Vóór die Saksiese Oorloë het die streek Sakse op goeie voet met Frankeland verkeer en gereeld met hulle omgegaan, en as handelskanaal met die Skandinawiese lande gedien. In 772 het ’n Saksiese stropersbende na bewering ’n kerk in Deventer (in hedendaagse Nederland, destyds deel van Karel die Grote se koninkryk) geplunder en afgebrand, en dit het Karel die Grote verskoning gegee om die streek binne te val. Waarom die Saksers die Deventer-kerk sou afgebrand het – en of dit wel die geval is – is nie bekend nie. Inaggenome Karel die Grote se onverdraagsaamheid jeens heidense gelowe en praktyke, is dit waarskynlik dat die Christenkoning agter die kerk se vernietiging gesit het om ’n inval van die Germaanse stam te regverdig wat hy in elk geval sou onderneem het.

Ter vergelding vir die ten gronde gerigte kerk het Karel die Grote na Wesfale opgeruk en die Irminsul – die heilige boom wat Yggdrasil (die Boom van die Lewe in Noorse mitologie) verteenwoordig – vernietig, en ’n spul Sake tydens sy eerste veldtog afgemaai. Sy tweede, derde en die res van sy veldtogte – altesaam 18 – was op dieselfde model van vernietiging en moordery geskoei. In 777 het ’n Saksiese krygerhoofman genaamd Widukind die weerstandsbeweging aangevoer en hoewel hy ’n vaardige leier was, was hy so hulpeloos soos enigiemand anders in Europa om Karel die Grote se oorlogsmasjien ernstig die hoof te bied. Hy het egter ’n ooreenkoms met koning Sigfried van Denemarke beding om Saksiese vlugtelinge in sy koninkryk toe te laat.

In 782 het Karel die Grote beveel dat 4 500 Saksers tereggestel word. Hierdie gruweldaad, wat as die Slagting van Verden bekend staan, was bedoel om die Saksers se gevegswil te breek maar steeds het hulle nie hul selfbeskikking prysgegee of hulle geloof verwerp nie. Kort daarna (óf in 784, óf 785) het Widukind as vredesgebaar aangebied dat hy gedoop word en daar is aangeteken dat hy wel gedoop is, maar nie lank daarna nie verdwyn hy uit die geskiedkundige rekords.

In 798 het Karel die Grote die stroom vlugtelinge na Denemarke stopgesit, en die Saksiese rebellies het ná die verdwyning van Widukind voortgeduur. Karel die Grote het op dieselfde manier gereageer as wat die afgelope 30 jaar die geval was, en met dieselfde resultate. Laastens het hy in 804 meer as 10 000 Saksers na Neustrië in sy koninkryk gedeporteer en hulle in Sakse met sy eie mense vervang. Sodoende het hy die konflik effektief gewen, maar homself die vyandskap van die Skandinawiese konings op die hals gehaal – veral Sigfried, wat kort daarna ’n aanval op die Frankiese streek Friesland geloods het. Hierdie konflik kon in nog ’n uitgerekte oorlog ontaard het maar Sigfried het gesterf, en sy opvolger het om vrede gevra.

Heilige Romeinse Keiser

Karel die Grote het regdeur die Saksiese Oorloë en sy ander veldtogte op eie inisiatief opgetree en baie min aandag aan die pousdom gegee. Nie een van die pouse het egter gekla nie, aangesien sy verskillende ondernemings met hulle eie belange ooreengestem het, en hulle direk daarby gebaat het. Teen 800 was dit egter duidelik dat Karel die Grote se mag dié van die pousdom oortref het, en daar was niks wat enigiemand daaraan kon doen nie.

Coronation of Charlemagne
Kroning van Karel die Grote
Friedrich Kaulbach (Public Domain)

Dít was duidelik toe pous Leo III (ampstermyn 795-816) in die strate van Rome deur ’n menigte mense aangeval is, en gedwing is om te vlug. Die skare mense is opgesteek deur Romeinse adel wat, in die hoop om Leo III met een onder hul eie geledere te vervang, hom van immoraliteit en misbruik van sy amp beskuldig het. Leo het hom tot Karel die Grote vir beskerming gekeer. Karel het die advies van sy geleerde raadgewer, Alcuïnus (735-804) gevolg en ingestem om Leo terug na Rome te begelei en hom van blaam te suiwer, wat hy inderdaad gedoen het. Vakkundige Norman Cantor (181) beskryf die gebeure:

Op 23 Desember, tydens ’n verhoor onder leiding van Karel die Grote, het Leo uiteindelik homself van die beskuldigings teen hom gesuiwer. Hierdie verloop van gebeure het ’n verpletterende vernedering vir die pous en sy ontseteling voor die Karolingiese heerser gekenmerk, en hy was vasberade om die prestige en gesag van sy amp te herstel deur die keiserlike kroning van Karel die Grote te voltrek. Toe Karel die Grote op Kersdag van die jaar 800 orent kom ná sy gebed voor die graftombe van sint Petrus, het pous Leo III skielik die kroon op die koning se kop geplaas, en die goed geoefende Romeinse kerklui en mense het uitgeroep, “Karel Augustus, magtige en vredegewende keiser van die Romeine gekroon! Lewe en sege!”

Na bewering wou Karel nie deur Leo gekroon geword nie en volgens gerugte het hy gesê dat hy nooit die kerk sou betree het as hy geweet het dit gaan gebeur nie. Hoe dit ook al sy, dit is ’n onweerlegbare feit dat die kroon duidelik sigbaar was toe Karel die kerk binnegekom het, en hy was intelligent genoeg om te moes besef dit is nie per abuis daar gelos nie. Dit is hoogs waarskynlik dat Karel die aansien van die titel verwelkom het maar geen bedoeling gehad het dat die pousdom met hulle Donasie van Konstantyn ’n skynhouvas op hom kry nie.

Kerklike en opvoedkundige hervormings

Daar blyk min twyfel te wees dat die kroning ’n poging deur die pousdom was om ’n mate van beheer oor Karel te bewerkstellig. Hollister (112) meld dat die pouse geglo het die keisers was veronderstel om pouslike rentmeesters te wees en dat hulle hul sekulêre politieke gesag in die belange van die Romeinse Kerk moes uitoefen. Nietemin was daar geen praktiese behoefte om dit te doen nie, aangesien Karel sy eie belange konsekwent met dié van die Kerk gekombineer het sedert hy aan bewind gekom het.

Behalwe vir sy gereelde militêre seges het Karel die Grote ook kerklike en opvoedkundige hervormings van stapel gestuur en sodoende funksionering van kerke, kloosters en opvoedkundige instellings regdeur sy koninkryk – nou sy rýk – verbeter. Tegnologiese vooruitgang tydens die Merowingiese Dinastie en die bewind van Pepyn die Korte het reeds ’n grondslag vir meer welvaart gelê. Landboukundige vooruitgang – soos wisselbou tussen drie plaaslande, die uitvinding en gebruik van die saamgestelde ploeg wat die vorige skraapploeg vervang het en kleinboere aangemoedig het om hulle plaashulpbronne en -arbeid saam te snoer. Dit alles het tot hoër voedselproduksie en beter versorging van die land gelei. Karel die Grote het op die verbeterings verbeter deur verdere ontwikkeling van meganisasie aan te moedig, soos die watermeul om graan fyn te maal, pleks van om dit met menslike arbeid te doen.

Sculpture of Charlemagne - Abbey of Saint John at Müstair
Beeldhouwerk van Karel die Grote – Abdy van sint Johannes te Müstair
Wladyslaw Sojka (GNU FDL)

Pepyn die Korte het ’n hervorming van die Frankiese kerk onder leiding van sint Bonifacius (l. 672-754) geloods wat orde in godsdienshuise daargestel en kloosterskole ontwikkel het. Hy het ook streke in gemeentes opgedeel om administrasie te vergemaklik. Karel die Grote het uit hierdie vooruitgang munt geslaan deur hulle verder te ontwikkel en homself met die slimste geeste van die tyd te omring, soos die vakkundige Alcuïnes van York wat geletterdheid as ’n belangrike aspek van godvrugtigheid beklemtoon het. Hierdie beleid is regdeur Karel se ryk in die kloosterskole bevorder, en het geletterdheidsyfers verbeter en beter studente gelewer. Die vroeëre hervormings van Bonifacius is voortgesit soos wat Karel gevolmagtigdes uit sy setel te Aken na die verskillende distrikte en gemeenskappe gestuur het om seker te maak dat sy dekrete ordentlik geïmplementeer word en dat alle aspekte van sy administrasie met ’n enkele doel voor oë gefunksioneer het. Daar blyk egter geen werklike rede vir hierdie afgevaardigdes te gewees het nie want diegene aan wie Karel posisies van mag toevertrou het, het hulle plig uit persoonlike lojaliteit teenoor hom, nie die staat nie, verrig.

Nalatenskap

Karel die Grote het vir 14 jaar oor sy ryk geheers totdat hy in 814 aan natuurlike oorsake oorlede is. Loyn (79) merk op hoe sy gesag en dinamiese persoonlikheid nodig was om die ryk te vestig en sonder hom het disintegrerende elemente gou die oorhand gekry. Hy het reeds Lodewyk die Vrome in 813 as sy opvolger gekroon maar daar was niks wat hy kon doen om die voortbestaan van sy nalatenskap ná sy afsterwe te verseker nie. Cantor (172) vermeld die volgende:

Die dood van slegs ’n paar verligte leiers, of selfs die skielike heengaan van een grootse persoonlikheid, kan veroorsaak dat die hele stelsel inmekaar stort en die weg baan vir ’n ewe vinnige verwording tot chaos en barbaarsheid. Die verligte groep leiers in so ’n pre-industriële samelewing was omring deur ’n horde wilde krygers en beestelike kleinboere wat hoegenaamd geen begrip gehad het van wat hulle leiers probeer doen nie. Soos die sentrale leiding dus wik en weeg, word daar onmiddellik teruggeval na barbaarsheid.

Charlemagne and the Carolingian Empire c. 814
Karel die Grote en die Karolingiese Ryk, ca. 814
Simeon Netchev (CC BY-NC-ND)

Die aanvanklike probleme van die ryk was egter nie weens enige afvalligheid of elemente van disintegrasie nie, maar weens Karel se eie keuses rakende Sakse dekades vantevore. Die Saksiese Oorloë het die streek vernietig, die dood van duisende mense teweeg gebring en het nie veel meer bereik nie as om die toorn van die Skandinawiese konings te ontketen wat geduldig hulle tyd tot Karel se dood afgewag het voordat hulle die Viking-aanvalle op Frankeland geloods het. Tydens Lodewyk se bewind van 820 tot 840 het die Wikings Frankeland herhaaldelik aangeval. Lodewyk het sy bes gedoen om hierdie aanvalle af te weer maar het dit makliker gevind om die Noormanne deur grondkonsessies en onderhandelinge te paai.

Toe Lodewyk in 840 oorlede is, is die ryk verdeel tussen sy drie seuns wat onder mekaar vir oorheersing baklei het. Hulle konflik is deur die Verdrag van Verdun van 843 beëindig wat die ryk tussen Lodewyk I se seuns opgedeel het. Lodewyk die Germaan (r. 843-876) het Oos-Frankeland gekry, Lotharius (r. 843-855) Middel-Frankeland en Karel die Kaalkop (r. 843-877) sou oor Wes-Frankeland heers. Nie een van hierdie Frankiese konings het daarin belanggestel om die ander te help nie en die ryk se infrastruktuur, sowel as die meeste van die hervormings wat deur Karel die Grote geïmplementeer is, het agteruitgegaan. Die Wiking-strooptogte het van 843 tot ca. 911 voortgeduur toe hulle uiteindelik deur Karel die Eenvoudige (r. 893-923) beëindig is met ’n ooreenkoms met die Wiking-opperhoof Rollo (later Rollo van Normandië, r. 911-927).

Hoewel Karel die Grote self nooit deur die Kerk se absurde Donasie van Konstantyn-bedrog geraak is nie, was sy afstammelinge nie so sterk nie, en die latere Karolingiese Dinastie sou daaronder gebuk gaan soos wat die pouse hulle veronderstelde politieke gesag uitgeoefen het. Die afsonderlike koninkryke van Karel die Grote se ryk sou uiteindelik die moderne nasies van Europa vorm en, ongeag al sy tekortkominge, sou dit nie gebeur het as dit nie was vir sy doelgerigte visie en sy natuurlike vermoë om op so ’n manier te lei dat ander hom gretig gedien het nie.

Verwyder Advertensies
Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Joshua J. Mark
Joshua J. Mark is ’n vryskutskrywer en voormalige deeltydse professor in Filosofie aan Marist Kollege, New York. Hy het al in Griekeland en Duitsland gewoon, en regdeur Egipte gereis. Hy het op kollegevlak klasgegee in geskiedenis, skryfwerk, letterkunde en filosofie.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Mark, J. J. (2019, March 25). Karel die Grote (Charlemagne) [Charlemagne]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-16764/karel-die-grote-charlemagne/

Chicago-styl

Mark, Joshua J.. "Karel die Grote (Charlemagne)." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig March 25, 2019. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-16764/karel-die-grote-charlemagne/.

MLA-styl

Mark, Joshua J.. "Karel die Grote (Charlemagne)." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 25 Mar 2019. Web. 21 Dec 2024.