Bartholomew Roberts – ook bekend as “Swart Bart” Roberts (ca. 1682-1722) – was ’n Walliese seerower en een van die suksesvolste booswigte van die Goue Eeu van Seerowery. Tydens sy loopbaan van drie jaar het Roberts meer as 400 skepe aan albei kante van die Atlantiese Oseaan gekaap – baie meer as enige ander seerower van daardie tydperk.
Swart Bart Roberts het bevel gevoer oor die Royal Fortune, een van die magtigste van al die seerowerskepe, wat oor minstens 40 kanonne beskik het. Hy was bekend vir sy windmakerige klerekas, uitlokkende Jolly Roger-vlae en dat hy uiters gesteld op dissipline was. Gretig om die galgtou te ontwyk wat soveel seerowers al teen hulle nekke gevoel kielie het, is Roberts in 1722 in die keel geskiet toe hy hom teen inhegtenisneming deur die Engelse owerhede verset het.
Vroeë loopbaan
Roberts is in 1682 in Pembroke Graafskap, Wallis gebore, met John sy werklike voornaam. Hy is op 13-jarige ouderdom see toe en het ’n lang, bruingebrande en verweerde kêrel geword wat tot sy latere bynaam Swart Bart Roberts (of Swart Barty) gelei het. ’n Alternatiewe oorsprong vir hierdie bynaam is dat Roberts dikwels sy gevangenes – veral dié van Franse herkoms – gemartel het om uit te vind presies waar hulle hul kosbaarhede weggesteek het. Tydens een berugte episode in Oktober 1720 het Roberts gelas dat die ore van ’n groep Nederlandse gevangenes afgesny word, terwyl ander gehang en hulle liggame vir teikenoefening gebruik is. Op een of ander manier het Swart Bart Roberts dus wel sy naam opgehou.
As jongman het Roberts as tweede stuurman diens gedoen op die Princess of London, ’n slaweskip wat die roete tussen die kus van Wes-Afrika en Londen bevaar het. In Februarie 1720 het hy – óf vrywillig óf gedwonge – aangesluit by die bemanning van die Walliese seerower Howell Davis wat die Princess gekaap het. Dit was op hierdie stadium dat Roberts sy doopnaam na Bartholomew verander het om dit vir die owerhede moeiliker te maak om sy identiteit te ontdek. Toe Davis in ’n skermutseling met die Portugese owerhede op die Eiland van Prinse (Principe Island) aan die Wes-Afrikaanse kus oorlede is, is Roberts deur die bemanning gekies om die stuur by Davis oor te neem. Kaptein Roberts het sonder versuim ’n wraakaanval op die fort op die Eiland van Prinse geloods en dit, sowel as die nabygeleë dorp ten gronde gerig.
Plaag van die Atlantiese Oseaan
Roberts het die Atlantiese Oseaan deurkruis en skepe aan die kus van Wes-Afrika, in die Karibiese See en aan die kus van Brasilië gekaap, sowel as al langs die kus van Noord-Amerika, tot so ver as Newfoundland, waar hy verwoesting onder die vissersvlote gesaai het. Eerder as om homself tot enkele skepe te beperk, het Roberts dikwels ’n hele vloot gekaap, soos die 11 vaartuie wat hy in Januarie 1722 langs die kus van Wes-Afrika oorgeneem het. Die kapteine van hierdie slaweskepe is vir ’n hoeveelheid goud om hulle skepe weer terug te kry – goud wat bedoel was om slawe mee te koop. Een kaptein het geweier sodat Roberts sy skip met teer bedek en dit tot ’n wrak uitgebrand het. Die seerowerkaptein het geen ag geslaan op die 80 slawe wat steeds in die skip se vragruim was nie. Roberts het plaaslike intelligensie gebruik en seevaarders gevange geneem om inligting oor bepaalde vlote in te win, en allerlei streke ingespan, soos om ’n nasie se vlag te hys wanneer hy ’n teiken nader. Roberts het nie altyd bloot daarin belanggestel om te plunder nie. By die Leeward-eilande het hy in 1720 ’n menigte skepe in die hawe aan die brand gesteek uit wraak vir medeseerowers wat onlangs in Sint Kitts gehang is.
Roberts het sy eie regverdiging vir sy gemene misdaadbestaan gegee:
In eerlike diens is daar klein porsies, karige lone en harde werk. In hierdie lewe lê oorvloed en versadiging, plesier en gemak, vryheid en mag; en wie sou nou nie hierdie kant met ’n krediet saldeer nie, wanneer die enigste gevaar wat jy daarmee loop ’n suur kyk of twee is terwyl jy aan't wurg is? Nee wat, ’n vrolike en kort lewe sal my leuse wees.
(Titelplaat: Cordingly & Falconer)
Roberts was ’n charismatiese leier van manne en – die belangrikste van alles – hy was uiters suksesvol met die plunder van buit om met hulle te deel. Hy moes in 1720 egter een muitery verduur toe ’n luitenant, ene Walter Kennedy (wat in 1721 gehang is), met twee skepe wat hy gekaap het die wyk geneem het. Vreemd genoeg het Roberts nooit aan alkohol geraak nie, en sy gunstelingdrankie was niks sterker as tee nie.
Roberts se Jolly Roger-vlae
Kaptein Roberts was daartoe geneë om vir sy rol as die geskiedenis se uitsonderlikste seerower aan te trek, en hy het daarvoor bekend geraak dat hy helderrooi syklere tydens ’n geveg gedra het. Volgens die gevierde wie's wie van seerowers A General History of the Robberies and Murders of the Most Notorious Pyrates (Algemene geskiedenis van die rooftogte en moorde van die berugste seerowers), wat in die 1720's deur Charles Johnson/Daniel Defoe saamgestel is, het Roberts ’n stryd stylvol aangeknoop:
Roberts was geklee in ’n karmosyn onderbaadjie en broek, ’n rooi veer in sy hoed, ’n goue ketting om die nek met ’n diamantkruis wat daaraan hang, swaard in die hand en twee paar pistole wat aan die punt van ’n systrop hang wat oor sy skouers geslinger is, ooreenkomstig die wyse van seerowers.
(243)
Sodanig was Roberts se voorliefde vir karmosynrooi bybehore vir sy klerekas dat die Franse hom die bynaam le jolie rouge gegee het. Roberts was daarvoor bekend dat hy onder andere die vlag met die skedel en doodsbeendere op sy vloot skepe laat wapper het en dit is moontlik dat hierdie vlag – weens die verbintenis daarvan met Roberts – algemeen as die Jolly Roger begin bekendstaan het (alhoewel daar baie ander teorieë oor die oorsprong van die naam Jolly Roger is).
Swart Bart Roberts se bekendste Jolly Roger-vlag het hom uitgebeeld waar hy ’n beker wyn saam met ’n geraamte of duiwel geniet wat ’n brandende spies vasklou. Dit was nie benede seerowers om hul eie beuel te blaas nie en Roberts se persoonlike banier het hom uitgebeeld waar hy met ’n swaard bo-op twee kopbene staan. Onder die kopbene was die letters ABH en AMH wat aandui dat hulle onderskeidelik die afgekapte koppe van die goewerneurs van Barbados en Martinique (a Barbadian head en a Martiniquan head) – wat albei skepe gestuur het om Roberts agterna te sit – verteenwoordig het.
Die Royal Fortune
Anders as die meeste seerowers wat ’n ligbewapende, klein maar vinnige vaartuig met min diepgang soos ’n sloep verkies het, was Roberts in bevel van ’n groot skip wat kwistig met 42 kanonne (of 52 volgens sommige bronne) toegerus was – die Royal Fortune. Roberts het sy pad na bo oopgewerk en tydens sy jare van seerowery die heeltyd groter en beter bewapende skepe oorgeneem, en die naam Royal Fortune na die volgende skip oorgedra. Die bekendste Royal Fortune was ’n Franse oorlogskip wat ongeveer 1697 in Bayonne gebou is. Te danke aan die vloot skepe wat Roberts tot sy beskikking gehad het, kon hy die skip naby Martinique in Karibiese water kaap. As onverwagte bonus was niemand anders nie as die goewerneur van Martinique aan boord en is hy gevolglik gevange geneem. Roberts het alle gesag asook die voortdurende pogings om hom voor die gereg te bring, verag en daarom het hy groot behae daaruit geput om – volgens Johnson/Defoe se weergawe in A General History in elk geval – die goewerneur aan die ranok te laat hang.
Die vierkant getuigde en goed bewapende Royal Fortune het Roberts in staat gestel om enige vlootskip wat agter hom aan gestuur is salvo vir salvo die stryd aan te sê. ’n Deense slagoffer van een van Roberts se aanvalle het die Royal Fortune en sy bewapening soos volg beskryf:
Die gemelde skip van Roberts word beman deur ongeveer 180 wit mans en ongeveer 40 Franse kreoolse negers en daar is 12 agtponders, 4 twaalfponders, 12 sesponders, 6 (brons) agtponders en 8 vierponders gemonteer; en onder sy hoofmas en voormas is daar sewe kanonne – twee- en drieponders – en 2 swaaikanonne op die stagmas.
(Konstam, The Pirate Ship, 24)
Roberts moes straks van sy Franse Royal Fortune afstand doen, waarskynlik omdat die romp nie meer herstel kon word nie nadat tropiese seekreature ’n dekade lank daaraan geknibbel het. Vanaf vroeg 1721 het hy met die Onslow, ’n skip van die Koninklike Afrika Maatskappy (Royal African Company), geseil. Die skip is Royal Fortune herdoop – die vierde en laaste van Roberts se skepe waaraan hierdie naam toegeken sou word – en deur binneskotte te verwyder wat nie meer nodig was om vrag te skei nie, is ruimte vir 40 kanonne geskep. Die voorste en agterste bowerk is ook verwyder om die skip ligter, vinniger en meer maneuvreerbaar te maak. Die ekstra dekruimte het die skip ook in staat gestel om met meer kanonne toegerus te word.
Swart Bart Roberts se seerowerbepalings
Dit was nie buitengewoon vir seerowerkapteins om ’n lys reëls vir hulle bemanning op te stel wat as die skeepsartikels bekend gestaan het nie. Daar is van elke man verwag om sodanige dokument te onderteken (of sy merk te maak indien hy nie kon skryf nie) en sy gehoorsaamheid daaraan te sweer. Roberts se artikels is na aanleiding van die getuienis van voormalige bemanningslede deur Johnson/Defoe saamgestel en in sy wie's wie van seerowers gestel. Die artikels wat die bemanning moes nakom, het sekere voorskrifte bevat wat ’n mens redelikerwys sou verwag, byvoorbeeld:
Om hulle vuurwapen [musket, ens.], pistole en kortelas skoon en dienlik te hou.
Geen seun of vrou word toegelaat nie. Indien enige man uitgevang word dat hy enigiemand van laasgenoemde geslag verlei en haar, vermom, ter see wegvoer, sal hy die dood vind.
Indien ’n bemanningslid tydens ’n geveg van die skip of van sy pos dros, word hy met die dood gestraf, of êrens [sonder lewensmiddele, op ’n verlate plek of in ’n bootjie] agtergelaat.
Daar is punte wat die relatiewe billikheid en gelykheid tussen bemanningslede illustreer:
Elke man het ’n stem in die huidige aangeleenthede, is ewe geregtig op die vars lewensmiddele of sterk drank wat ter enige tyd gebuit is, en mag dit na willekeur gebruik, tensy ’n skaarste dit noodsaak, vir almal se beswil, dat daar ten gunste van ’n beperking gestem word.
Vir ’n spul booswigte was daar ook ’n paar verrassende punte wat hulle in ag moes neem, soos:
Geen persoon mag kaarte of met dobbelstene speel vir geld nie.
Die musikante mag op die Sabbat rus. (211-212)
Roberts se dood
Die berugte seerower – soos hy self voorspel het – sou net ’n kort misdaadloopbaan geniet. In Februarie 1722 was Roberts en sy bemanning aan boord die Royal Fortune wat naby Kaap Lopez, Gaboen voor anker gelê het nadat hulle die vorige nag gefuif het om hulle mees onlangse string kapings te vier. Ná ’n uitgerekte skermutseling met die Koninklike Vloot se fregat Swallow wat onder bevel van kaptein Challoner Ogle (1681-1750) maande lank na Roberts gesoek het, is die seerower op 10 Februarie aan boord sy skip om die lewe gebring. ’n Tropiese storm het opgekom en in die loeiende wind het die twee skepe gemaneuvreer om ’n gunstiger posisie bo die ander te verkry. Soos die twee vaartuie naby mekaar verby beweeg het, het ’n stuk metaal wat as kartetsvuur deur een van die Swallow se kanonne geskiet is Roberts noodlottig in die keel getref. Die liggaam van die gevalle kaptein is deur sy bemanning oorboord laat sak soos wat hy hulle dikwels beveel het om in so ’n gebeurlikheid te doen ten einde die owerhede te verhoed om sy liggaam te neem en dit in die openbaar op te hang.
Ná ’n geveg van drie uur het Ogle se manne geseëvier en 268 seerowers is gevange geneem. Roberts se bemanning het dikwels voormalige slawe ingesluit wat óf van gekaapte slaweskepe vrygelaat is, óf wat van koloniale plantasies ontsnap en hulle vrywillig in die seerowerlewe begewe het. 77 swart Afrikaslawe wat as seerowers geveg het, is deur kaptein Ogle gevange geneem, en hulle is almal weer verslaaf. Nadat 52 lede van Roberts se seerowerbemanning verhoor en aan seerowery en moord skuldig bevind is, is hulle binne sig van Cape Coast Kasteel in hedendaagse Ghana gehang. Dit was die grootste openbare teregstelling van seerowers tydens die sogenaamde Goue Eeu van Seerowery. Nog 20 manne is tot dwangarbeid in Wes-Afrika gevonnis wat bloot ’n ander vorm van die doodsvonnis was aangesien nie baie mense lank in sulke strafkolonies oorleef het nie. Vir sy pogings is kaptein Ogle intussen tot ridder geslaan; hy het sy loopbaan met die rang van kolonel geëindig.