Sint Sofia Katedraal, Kiëf

8 dae oor

Belê in geskiedenisonderwys

Deur ons liefdadigheidsorganisasie World History Foundation te ondersteun, belê u in die toekoms van geskiedenisonderwys. Jou skenking help ons om die volgende generasie te bemagtig met die kennis en vaardighede wat hulle nodig het om die wêreld rondom hulle te verstaan. Help ons om die nuwe jaar te begin gereed om meer betroubare historiese inligting te publiseer, gratis vir almal.
$3442 / $10000

Definisie

Artem Vynohradov
deur , vertaal deur Eduan Naudé
gepubliseer op 22 November 2021
Luister na hierdie artikel
X
Druk artikel
Entrance to Saint Sophia Cathedral, Kyiv (by Rbrechko, CC BY-SA)
Ingang na Sint Sofia Katedraal, Kiëf
Rbrechko (CC BY-SA)

Sint Sofia Katedraal in Kiëf, Oekraïne is ’n monument met 11de-eeuse argitektuur, skilderkuns en mosaïekwerk. Die katedraal is na Hagia Sofia vernoem en as die hooftempel van die staat het dit die rol van die staat se geestelike, politieke en kulturele middelpunt gespeel. Onder die koepels van Sint Sofia Katedraal het plegtige inhuldigings van groothertoë plaasgevind, sowel as heilige raadsvergaderings, die ontvangs van ambassadeurs en die ondertekening van politieke ooreenkomste. Kronieke is by die katedraal bewaar en die eerste bekende biblioteek in Kiëfse Rusland is hier geskep.

Stigting

Dit is nie bekend wie die katedraal gestig het nie maar daar bestaan twee algemene weergawes van die stigting van die heiligdom. Volgens die Primêre Kroniek was hertog Yaroslav die Wyse van Kiëf (ca. 978-1054) die stigter van die katedraal; hy het dit in 1037 ná sy oorwinning oor die Petsjenegs gebou. Ander bronne voer aan dat die katedraal in 1011 deur Vladimir die Grote (ca. 985-1015) gestig is. Nadat die muurinskripsies in die katedraal ondersoek is, het geskiedkundiges tot die slotsom gekom dat dit moontlik is dat die fondament van die katedraal in 1011 gelê kon gewees het. Die tweede teorie is deur sowel die Oekraïense regering as UNESCO aanvaar wat in 2011 die 1 000ste herdenking van die katedraal plegtig gevier het.

Verwyder Advertensies
Advertensie
DIE KATEDRAAL IS VOLGENS DIE BISANTYNSE TEGNIEK MET GROOT NATUURLIKE KLIP – GRANIET EN ROOSKWARTSIET – GEBOU.

Argitektuur

Alhoewel ons nie die name van die argitekte ken nie, kan ons aanvaar dat die katedraal deur eersteklasmeesters van die Bisantynse Ryk gebou is. Hulle het redelike algemene kenmerke van Kiëfs-Russiese asook Bisantynse argitektuur in die katedraal geïmplementeer. Daaronder is die aantal koepels en hulle vorm, die toename in middelskepe, die onmiskenbare piramidevorm, die wanverhouding tussen die breedte en die lengte van die romp van die katedraal, sowel as die strewe na hoogte.

Die katedraal is volgens die Bisantynse tegniek van gemengde steenklipmesselwerk (met baksteenpakstukke) van groot natuurlike blokke klip – graniet en rooskwartsiet – gebou, as gevolg waarvan tweekleurstroke met ’n verskillende tekstuur op die hoofoppervlak geskep is. Die vooraansig van die kerk is nie gepleister nie, en die messelwerk is onbedek gelaat. Vandag kan ons die oorspronklike messelwerk op sommige van die ongepleisterde dele van die katedraal sien.

Verwyder Advertensies
Advertensie

Saint Sophia Cathedral, Kyiv
Sint Sofia Katedraal, Kiëf
Serhii Ventseslavskyi (CC BY-SA)

Sint Sofia Katedraal was oorspronklik ’n kruiskoepelkerk met 13 koepels. Die sentrale hoë koepel van die tempel in die Bisantynse styl is gebou om aan Christus – die hoof van die kerk – te herinner. Die ander twaalf koepels van die katedraal is met die apostels geassosieer. Die boë van die katedraal verteenwoordig die hemelse poorte waardeur die mense hierdie heilige plek betree.

AL DIE MOSAÏEKWERK VAN DIE KATEDRAAL IS OP ’N AGTERGROND VAN GLANSENDE GOUD AANGEBRING, EN HULLE IS RYKLIK GEKLEUR.

Petro Mohyla (1597-1647) en Ivan Mazepa (1639-1709) het in die 17de eeu die rekonstruksie van die katedraal gefinansier en die boonste deel van Sint Sofia behoorlik herbou. ’n Italiaanse argitek, Octaviano Mancini (ca. 1580-1638) is genooi om hierdie werk te behartig. Verder is die geheel van Sint Sofia se omliggende geboue gebou. Die dele van die katedraal ná die rekonstruksie sowel as die omliggende konstruksies het ander kenmerke as die Kosak-barokstyl.

Verwyder Advertensies
Advertensie

Interieur

Binne die katedraal is daar 260 vierkante meter mosaïekwerk en 3 000 vierkante meter fresko’s wat uit die 11de eeu dateer. Mosaïekwerk uit die 11de eeu verfraai die hoofdele van die katedraal – die sentrale koepel en die hoofaltaar. Hulle is in ’n streng orde volgens die hemelse hiërargie gerangskik, met inskripsies in Grieks langs elke mosaïeksamestelling wat ’n verduideliking van die uitbeelding gee. Die name van die mosaïekwerkers is onbekend. Al die mosaïekwerk in die katedraal is op ’n agtergrond van glansende goud aangebring, en hulle is ryklik gekleur. Nieteenstaande die kleurverskeidenheid van die mosaïekwerk, is die oorwegende kleurtone gryswit en blou, gekombineer met pers. By die apeks van die hoofkoepel is daar ’n mosaïek van Christus Pantocrator.

Interior of Saint Sophia Cathedral, Kyiv
Interieur van Sint Sofia Katedraal, Kiëf
Sophia of Kyiv (Copyright)

Die fresko’s wat in Sint Sofia Katedraal behoue gebly het, dateer ook uit die 11de eeu – hulle is tydens die konstruksie van die katedraal gemaak. Tydens die rekonstruksie van die katedraal in die 19de eeu is die fresko’s met olieverf gerestoureer. Die geheel van die inhoud van die katedraal se fresko’s was onderhorig aan ’n enkele plan – die bekendstelling van die onlangs aangenome Christendom – maar terselfdertyd moes die verfwerk van die staat se hoofkatedraal die grootsheid van die Kiëfse Russe, hulle internasionale erkenning en die rol van Kiëf in die politieke lewe van Europa weerspieël. Derhalwe is ’n beduidende plek aan sekulêre komposisies toegeken. Op die drie mure van die sentrale middelskip, oorkant die hoofaltaar, is ’n luisterryke gesinsportret van die stigter van die katedraal geskilder; dit is óf die gesin van hertog Vladimir, of sy seun Yaroslav.

Sint Sofia Katedraal het sedert die stigting daarvan as graftombe diens gedoen. Die nekropolis van die katedraal, die oudste dodestad in Kiëfse Rusland, dek ’n lang tydperk van die geskiedenis en bevat die laaste rusplek van hertoë en die hoër kerklui. Die meeste van die name wat in Sofia se nekropolis begrawe lê, is onbekend maar dié wat wel geïdentifiseer is, dui aan dat prominente figure hier ter aarde bestel is. Die bekendste graflegging behoort aan Yaroslav die Wyse en Volodymyr Monomakh (1053-1125).

Verwyder Advertensies
Advertensie

Sarcophagus of Yaroslav the Wise
Sarkofaag van Yaroslav die Wyse
Stas-Adolf (CC BY-SA)

Kloktoring

Die 76 m-hoë kloktoring van Sint Sofia Katedraal is ’n argitektoniese monument in die Kosak-barokstyl. Konstruksie daarvan is in 1699 deur Ivan Mazepa befonds. Die toring was aanvanklik drievlakkig maar in 1851-1852 is dit hoër gemaak deur ’n ekstra vlak by te voeg en dit met ’n peervormige houtkoepel, bedek met vergulde koperdunplate, te bekroon. Die beeldhoudekor van die kloktoring verkeer in perfekte wisselwerking met die argitektoniese komposisie daarvan. Dit is versier met ’n verskeidenheid stukadoor-ornamente verweef met storielyn-basreliëfs. Byna al die stukadore het behoue gebly.

Geskiedenis

Die millennium-oue geskiedenis van die katedraal was vol beroeringe gewees. Sint Sofia Katedraal het al baie vyandelike invalle, plundery, gedeeltelike vernietiging, herstelwerk en rekonstruksies oorleef. Die eerste groot bedreiging vir die kerk was die plundering van die stad in 1169. Kiëf is ingeneem en verwoes deur hertog Andrei die Vrome (ca. 1111-1174) van Vladimir-Suzdal wat al die gouditems en kerkrelieke, en in besonder die ikoon van die Heilige Maagd, geneem het. Die katedraal het oorleef en is herstel. Daarna het een van die mees bewoë tydperke van Kiëf se geskiedenis gevolg: die beleg van die stad deur Batu Khan se hordes in 1240 toe die meerderheid van die argitektoniese strukture tot as verbrand is. Weereens het Sint Sofia Katedraal oorleef maar, geplunder en verpletter, was die voormalige prag en praal daarvan tot niet, alhoewel dit steeds die stad se belangrikste werkende kerk gebly het. In die volgende eeu het Siprianus (1330-1406), metropolitaan van Kiëf, herstelwerk aan die katedraal befonds. In die 15de eeu is Sint Sofia twee maal geplunder en beroof – eers in 1416 deur Edigu Khan (1352-1419) en toe in 1482 deur Menli I Giray (1445-1515). Van 1497 tot 1577 het die katedraal verlate gestaan, maar in 1577 is dit herstel en later aan die Grieks-Ortodokse Kerk oorhandig.

Bell Tower of Saint Sophia Cathedral, Kyiv
Kloktoring van Sint Sofia Katedraal, Kiëf
Posterrr (CC BY-SA)

Die jaar 1633 het ’n nuwe tydvak vir die katedraal ingelui toe dit die eiendom van die herstelde Ortodokse Kiëfse aartsbisdom van die Patriargaat van Konstantinopel geword het. Hierdie herstel is aan die Kiëfse metropolitaan Petro Mohyla gekoppel wat daarin kon slaag om ’n klooster te stig en die katedraal op te knap en dit te versier. Kloostergeboue van hout is rondom die katedraal opgerig en die hele area is deur ’n hoë houtheining omring. Petro Mohyla het die Italiaanse argitek Octaviano Mancini by die werk aan die katedraal betrek. Die vernaamste boumateriaal was bakstene en kalksandmortel, met bakstene wat vir messelwerkmure, gewelwe en fondasies gebruik is.

Verwyder Advertensies
Advertensie

Die rekonstruksie is later deur hetman Ivan Mazepa uitgevoer. Daar is begin om nuwe klipgeboue rondom die katedraal te bou. Geboue soos die kloktoring, ’n metropolitaanswoning en die hele argitektoniese geheel van die Sint Sofia Katedraal is gebou. Ivan Mazepa het die hoofkoepel op sy eie onkoste laat verguld. Al hierdie geboue en die opgeknapte katedraal het kenmerke van die Kosak-barokstyl verkry.

In die 20ste eeu het Sint Sofia Katedraal ’n beduidende rol in die geskiedenis gespeel en vele bedreigings vir die voortbestaan daarvan getrotseer. Aan die begin van die eeu het twee belangrike gebeurtenisse daar plaasgevind. Die eerste was die wyding in 1918 van Pavlo Skoropadsky (1873-1945) as hetman van die hele Oekraïne, en die proklamasie in 1919 van die Eenheidswet, wat die “twee Oekraïnes” verenig het. Maar kort daarna het die Oekraïense Volksrepubliek tot ’n val gekom en het die stad Kiëf deel van die Sowjetunie geraak.

Fresco in the Saint Sophia Cathedral
Fresko in Sint Sofia Katedraal
Unknown Artist (Public Domain)

In die 1920’s tot 30’s wou die Bolsjewiste die katedraal sloop soos wat hulle met so baie ander kerke regdeur die USSR gedoen het, maar het toe besluit om dit te red. Die terrein van die Sofia Katedraal is as staats- geskiedkundige en argitektoniese bewaargebied verklaar. Daar is op alle goud- en silweritems beslag gelê, die vergulde ikonostases is uitmekaargehaal, alle goud is afgestroop en die res is verbrand. Toe die Rooi Leër in 1941 tydens die Tweede Wêreldoorlog besig was om uit Kiëf te onttrek, is Sint Sofia met plofstof gemyn maar die ontploffing het nooit plaasgevind nie. Later tydens die Nazi-besetting van die stad is die uitstallings van die Sofia Argitektoniese en Geskiedkundige Museum geplunder, en sommige van die duur ikone en foto-argiewe is na Duitsland weggevoer.

In die tydperk wat na die oorlog gevolg het, is baie rekonstruksies by die katedraal en die omliggende geboue uitgevoer. Baie nuwe fresko’s en mosaïekwerk is ontdek en navorsing is gedoen. In 1990 is die geheel van die Sint Sofia Katedraal by UNESCO se wêrelderfenislys ingesluit. Vandag is die katedraal ’n uiters gewilde en bekende gebou wat toeriste van regoor die wêreld lok. Die plein voor die katedraal word dikwels vir die vier van Onafhanklikheidsdag, Kersfees, Paasfees en baie ander vakansiedae gebruik.

Verwyder Advertensies
Advertensie

Oor die Vertaler

Eduan Naudé
Ek is ’n gekwalifiseerde vertaler (Afrikaans↔Engels) en skryf tans ’n roman in Afrikaans wat in die Middeleeue afspeel – ’n era wat ek as die keerpuntepog beskou waarna die mens voeling met die natuur begin verloor het; derhalwe het kastele voor wolkekrabbers begin wyk.

Oor die Skrywer

Artem Vynohradov
My naam is Artem. Ek is ’n Oekraïense student en ’n geskiedenis-entoesias. My belangstellings sluit ekonomie, geskiedenis, geografie, internasionale betrekkinge, argitektuur, stedelike lewenswyse en linguistiek in.

Siteer hierdie werk

APA-styl

Vynohradov, A. (2021, November 22). Sint Sofia Katedraal, Kiëf [Saint Sophia Cathedral, Kyiv]. (E. Naudé, Vertaler). World History Encyclopedia. Opgehaal vanaf https://www.worldhistory.org/trans/af/1-20180/sint-sofia-katedraal-kief/

Chicago-styl

Vynohradov, Artem. "Sint Sofia Katedraal, Kiëf." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. Laas gewysig November 22, 2021. https://www.worldhistory.org/trans/af/1-20180/sint-sofia-katedraal-kief/.

MLA-styl

Vynohradov, Artem. "Sint Sofia Katedraal, Kiëf." Vertaal deur Eduan Naudé. World History Encyclopedia. World History Encyclopedia, 22 Nov 2021. Web. 23 Dec 2024.