Selja Klooster word al vir langer as ’n 1 000 jaar as een van die gewydste liggings in Noorweë beskou. Die klooster word gekoppel aan die legende van St. Sunniva (10de eeu HJ), die enigste Noorweegse sint, en was vir ’n lang tyd ’n belangrike pelgrimsbestemming in die land, met slegs die Nidaros Katedraal in Trondheim wat gewilder was. Die geskiedkundige konteks sowel as die wilde en bekoorlike omgewing lok steeds baie besoekers na die eiland en die klooster daarop. Dit laat ’n blywende indruk op diegene wat die reis daarheen onderneem.
Die legende van St. Sunniva
Die godsdienstige betekenis van die eiland Selja begin met die legende van St. Sunniva en die Seljamen waarvan die oorsprong blykbaar in die 10de eeu HJ gesetel is. Die legende is in drie verskillende bronne opgeteken: Acta Sanctorum in Selio (1170 HJ), Óláfs saga Tryggvasonar (ca. 1190 HJ deur Oddr Snorrason, Ysland) en Flateyjarbók (14de eeu HJ, Ysland) maar dit is eerste deur Adam van Bremen (1040-1081 HJ) genoem wat die eiland ca. 1070 HJ besoek het. Adam van Bremen se besoek het 70-80 jaar plaasgevind nadat Olav Tryggvason, die eerste Christenkoning van Noorweë (r. 995-1000 HJ) glo die oorskot van St. Sunniva in die grot waar sy in 996 HJ begrawe is, gevind het.
Volgens die legende was St. Sunniva ’n Ierse Christenprinses wat van haar huis af moes vlug. ’n Heidense en gewelddadige koning – moontlik ’n Viking-opperhoof – wou beheer van haar grond verkry en haar dwing om met hom te trou. Die Ierse prinses, sowel as ’n paar van haar mense en haar broer Alban het per boot ontsnap. Alban is later verkeerdelik geassosieer met die Engelse St. Alban (3de of 4de eeu HJ) aan wie die klooster later opgedra is. Onstuimige weer het die boot oorweldig en St. Sunniva en haar metgeselle het aan die kus van Noorweë beland. Gestrand op Selja Eiland, het hulle skuiling in ’n grot gevind en hulle op die voorheen onbewoonde eiland gevestig.
Destyds het Jarl (die titel van ’n Noorse hoofman) Håkon Sigurðarson (r. ca. 975-995 HJ) oor Noorweë geheers. Hy was ’n heidenkoning wat sterk teen die verchristeliking van Noorweë gekant was. Die mense wat op die vasteland gewoon het – nie ver van Selja af nie – was skepties oor die nuwe Christennedersetters en het tyding aan Jarl Håkon gestuur en hulle nuwe bure van skaapdiefstal beskuldig. Jarl Håkon is met ’n afdeling gewapende mans na die eiland met die bedoeling om die Ierse prinses en die nuwe inwoners dood te maak. St. Sunniva en haar geselskap het in die grot weggekruip en tot God gebid vir ’n wonderwerk om hulle teen die toorn van die heidene te beskerm. Hulle gebede is verhoor. Klippe het van die berg bo die grot af geval en die ingang na die grot geblokkeer, en sodoende is Jarl Håkon se aanval gestuit. Ongelukkig was St. Sunniva en haar volgelinge binne die grot vasgekeer en almal het gesterf. Olav Tryggvason het die grot later besoek en het Sunniva se liggaam behoue gevind; dit het gelyk of sy maar net geslaap het. Dit is as teken van haar heiligheid aanvaar, en die eiland is kort daarna as belangrike pelgrimsligging gevestig.
’n Besoek aan die klooster
Indien jy hierdie betowerende eiland wil besoek, moet jy mooi beplan want jy moet ’n bootvaart vanaf Selje bespreek om daar te kom, en daar is gewoonlik nie baie afvaarte per dag nie. Die bootvaart duur ongeveer 15 minute, en jy sal maklik 2 uur hê om die eiland te verken voordat die boot jou weer optel en terugneem na die vasteland. ’n Gids sal die pad na die kloosterbouval aanwys waar die toring die enigste struktuur is wat nog heeltemal staan. Jy kan die toring binnegaan en die nou trappe klim vir ’n uitstekende uitsig oor die eiland voordat jy deur die ruïne wandel en jou voorstel hoe die kloosterlewe deur die eeue heen op die verweerde eiland moes gewees het. Indien jy gelukkig genoeg is om jou besoek op ’n sonnige somersdag af te lê, sal dit dalk moeilik wees om te verstaan hoe koud en vyandig die omgewing tydens die donker, ysige winters moes gevoel het toe die see en wind vanaf die Noordsee in gedryf het. Die monnike wat gekies het om heeljaar op die eiland te woon, moes werklik toegewyd aan hulle diens en die gewydheid van die eiland en St. Sunniva gewees het.